Thursday 9 June 2011

Woorde van Vermiste Mense - Koos Du Plessis

Jou naam kom nooit na vore,
nie in grou geregskantore,
nie in lêrs oor verhore nie;
jou diepste, verste spore loop ook dood.

Ek kan dit nie verduur nie;
daar's geen saak en geen dossier nie
en die wete: Jy's nie hier nie
voel soos lood

Ek bly opsoek na lank vermiste mense
maar almal bly my oninhaalbaar voor
Die jare skif tot newels voor die lense
en die hart verloor maar mettertyd die spoor

Die stad bars uit sy nate
en die rustelose strate
sonder jou is leeg verlate
en ek weet in watter mate ek jou mis
Ons praat soms soos tevore
en n droom word weer gebore
maar n wêreld lê verlore
in die leegheid van die woorde
wat daar is

Ek soek vergeefs na lank vermiste mense
wat om my is, maar onbereikbaar ver
wat langsaam uitgekring het oor my grense
nog lokkend, maar afsydig, soos n ster

1 comment: